Inleiding
Die nie-standaardindiensneming van werknemers, ook bekend as atipiese werk, kom deesdae algemeen voor. Die uitwerking daarvan is 'n onderwerp waaroor wyd navorsing gedoen word. Wanneer daar gekyk word na die ontwikkeling van die globale ekonomie sedert 1970, is een van die belangrikste veranderinge, sekerlik die groei in atipiese vorme van indensneming, hoofsaaklik informalisering en buigsaamheid, in beide ontwikkelde en ontwikkelende lande (Valodia, 2001).
Wat behels die term atipiese werk? Navorsing toon dat daar drie verwante prosesse is wat die verhoging in nie-standaardindiensneming veroorsaak: geleentheidswerk , eksternalisering en informalisering. Geleentheidswerk behels deeltydse werk, tydelike werk of seisoenwerk. Eksternalisering behels uitkontraktering, subkontraktering, tuiswerk en die gebruik van tydelike-werkverskaffingsdienste waar 'n derde party die diensverhouding betree en indiensneming eerder gereguleer word deur kommersiële maatreëls as deur arbeidswette. Informalisering verwys na die proses waar indiensneming grootliks ongereguleer is. Nie-standaardindiensneming is tradisioneel onder plaaswerkers, huiswerkers, tuinwerkers en veiligheidsbeamptes in Suid-Afrika aangetref (Backer, 2005).
Uitwerking van atipiese werk
Die gebruik van atipiese vorme van werk, het ’n groot uitwerking op indiensneming en verskeie werksgeleenthede. Wanneer daar gekyk word na die ontwikkelingsprogram van die Verenigde Nasies was daar in 1990 8,3 miljoen werkers in formele poste in SuidAfrika en 1,7 miljoen in informele poste. Onlangse peilings het egter getoon dat nie-standaardindiensneming dramaties gegroei het. In 2000 het sowat 1,55 miljoen mense kontrakwerk verrig. Nou is dit sowat 3,89 miljoen. Net ’n deel hiervan is nuwe werk. Permanente poste het in dieselfde tydperk van 10,7 miljoen tot 9,8 miljoen geval (Van Rensburg, 2010). Dit is dus duidelik sigbaar dat daar ’n afname is in die aanstelling van formele poste en dat daar alhoe meer van informele...